Huisbesoekbrief met die oog op Nagmaal 21 November 2010
Wat doen jy as jy besig is met ‘n persoonlike gesprek en jou selfoon lui? Wat doen die verkoopsman as jy by ‘n winkeltoonbank staan en die telefoon lui? Dikwels word die foon geantwoord. Waarom gebeur dit? Want dit is MISKIEN dringend, maar is dit noodsaaklik?
In dit wat Jesus vertel sê een van die genooides dat dit noodsaaklik is dat hy na die stuk grond moet gaan kyk wat hy gekoop het. Daarmee sê hy vir sy gasheer dat dit ‘n verpligting is wat nie gelos kan word nie. As jy daaraan dink dat die grond klaar gekoop is, was dit werklik noodsaaklik?
Wat is noodsaaklik? In Kor 9:15-17 maak Paulus dit duidelik dat dit vir hom noodsaaklik is om die evangelie te verkondig omdat dit ‘n taak is wat God aan hom toevertrou het. En hierdie taak sal hy uitvoer al is die koste ook hoe groot. Noodsaak het te doen met die eindresultate. Dit dra by tot die verwesenliking van jou lewensdoel. Dit verhoog jou waarde, dit dra by tot jou lewenskwaliteit, en die van die mense rondom jou. Hoeveel aandag gee jy daaraan?
‘n Mens moet dus oordeel of iets dringend is en of dit werklik noodsaaklik is.
As ons nou eerlik gaan kyk na die manier waarop ons ons lewe bestuur, reageer ons op dringende dinge wat on slangs die pad sien, of leef ons op grond van die duidelike plan wat God vir ons lewe gegee het? Hoe bepaal ek of ek die telefoon gaan antwoord of nie, of ek werk toe gaan of nie, met my kinders speel of nie? Bybellees en bid of nie …? Word daar gewerk met die langtermyn doel wat God vir ons het in gedagte, of word jy maar heen en weer gesleep deur elke geberurtenis wat voor jou inspring en spreekwoordelik skree: ek soek aandag?
Terwyl jy besig is met dringende dinge, word die noodsaaklikes afterweë gelos. So het die geleentheid wat die genooides met die baie verskonings gehad het om saam met die Koning van al die konings, Jesus Christus te eet, verby gegaan.
Om besig te wees met noodsaaklike dinge, vra moeite. Dit vat tyd om ‘n verhouding op te bou. Dit vra tyd om voor te berei vir ‘n loopbaan, dit vra beplanning om met my geld en tyd om te gaan, en dan by daardie NOODSAAKLIKE plan te hou.
Kom ons praat oor eredienste, oor die doelbewuste groei in ons verhouding met God en die ander mense wat vir my saak maak. Kom ons dink aan die manier waarop ek met geld werk, waarop ek my beloftes teenoor God nakom. Ly dit skade as gevolg van dringende dinge wat ek toelaat om die noodsaaklike te versmoor?
Wat doen ons nou? Doen selfondersoek. Dink aan jou tyd en geld soos jy dit tans spandeer, waarheen gaan dit? Gaan dit ter wille van jou lewensdoel soos God dit vir jou gegee het?
Die uitnodiging is nog daar: Gaan sit gou by die Here se voete, en besluit dan wat jy moet doen.
Dr Chris van der Walt, Pietersburg-Suid