015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Bly Standvastig in Geloof

Bly Standvastig in Geloof

Sunday, 19 July 2020 - 9:00am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Openbaring 9 vs 13-21

Lees:  Openbaring 9: 13 – 21.

VIDEOOPNAME

Fokusteks: Die rede waarom die verskriklike dinge gebeur word in verse 20 en 21 gegee

Geliefde broers en susters die verskil tussen die 5de en 6de trompet is lewensbelangrik. Die 5de trompet het gepynig en die 6de maak dood. Die onbekeerlikheid van die mensdom gryp jou aan die hart. Abel se bloed roep van die aarde om God se geregtigheid. Daarom is dit wat ons hier hoor die verhoring van die gelowiges se gebede in hoofstuk 8: 3 – 5. Die reukofferaltaar simboliseer God se mag en krag.

Die 6 de trompet is die 2de wee-uitspraak. (Onthou die arend het 3x wee geroep). Die stem om die magte los te maak kom van die troon. Alles gebeur dus op bevel – op   God se bevel. Dit is ons troos in 2020. Niks gebeur sonder rede nie. God ken die pad van die mensdom, Hy ken die rede. Dit is God se tyd en ons leef binne die raamwerk van God se raadsplan. Dit gryp ‘n mens aan die hart om te weet watter oordele wag op die mensdom. Hoe gaan ons dit geestelik oorleef? Die getal 4 dui op die skepping, die mensheid en die wêreld en alles gaan getref word.

Wanneer ons na die aangrypende visioen luister, hoor ons in beeldryke taal weereens van ruiters en perde. Die miljoene der miljoene laat ‘n mens verskrik staan voor die magte wat losgegelaat gaan word. En om daarby te dink dat ‘n derde van die mensdom gaan sterf, laat ‘n mens sidder by die gedagte aan so ‘n omvangryke wêreldoorlog. Sou dit vandag gebeur praat ons van 2 biljoen mense plus wat hulle lewe gaan verloor. Dit is bykans onmoontlik om soveel mense te begrawe. In die moderne oorloë word almal getref – man, vrou, kinders, diere en die natuur. Onthou die hongersnood en die pessiektes wat saam met die ruiters uitgaan oor die wȇreld.  

In die gedeelte is daar ‘n paar beelde wat ons reg moet verstaan. Die Eufraatrivier was die Oosgrens van die Romeinse Ryk. Anderkant die rivier was die gevreesde perderuiters van die Partiërs. Hulle ruiters en boogskutters het die Romeine in verskeie veldslae, rondom 60 vC, oorwin. Die Eufraatrivier het uit die paradys gevloei. Dit het mettertyd die simbool geword van die magte wat teen God opstaan – Babilonië en Assirië.

Darom moet ons die ruiters reg verstaan. Die beeld is ontleen aan Johannes se tyd toe dit perde en ruiters in die oorlog was, dit was die metode van oorlogvoering in die 1ste eeu na Christus. Vandag het ons vreesaanjaende wapens – atoombomme ens wat oor ‘n afstand verwoesting saai. Daarom het die perde koppe soos leeus. Hulle werk is om te vernietig. Die kleure korrespondeer met die vuur, rook en swael wat uit hulle bekke uitgaan. Die simboliek is duidelik. Dit moet so vreesaanjaend en oorweldigend as moontlik wees.

God se oordeel is verskriklik. Hoe vreeslik is dit om in die hande van die lewende God te val. Daarom moet ons die beste van die genadetyd maak wat ons nou ontvang. Die oomblik as jy dink die bekke is vreesaanjaend kom die sterte wat soos slange is. Die skerppunt van die oordeel is in verse 20 – 21. Die gee die rede waarom alles gebeur – die mensdom hou aan om die afgode wat hulle maak, te aanbid. Destyds was dit fisiese afgode. Die oordele roep tot inkeer en bekering. Die mens wat afgodery bedryf is tot enigiets in staat. Daarom die lys ondeugde in vers 21. Dit stem ooreen met die 10 gebooie uit die Ou Testament wat in Openbaring gereeld aan die orde kom. Ons lees in Handelinge dat die mense van Efese toe hulle tot bekering gekom het, hulle towerboeke en spreuke, wat derduisende goudstukke werd was, verbrand het as teken van berou en bekering.

Die Here is lankmoedig, geliefde brs en srs. Daarom is ons geroep om juis in die pandemie te verkondig – die Here gee nog ‘n geleentheid tot berou en bekering. Gryp dit aan. Die wȇreld waarin ons woon is so vasgevang in sy eie sisteme van sosialisme, kommunisme en kapitalisme, dat dit die mensdom se gode is. Mammon is die dryfkrag vir die mensdom om te werk, nie om God deur jou werk te eer nie. Jy het ‘n sekere standaard van lewe en jy moet dit ten alle koste handhaaf – al breek dit jou gesondheid, jou huwelik of jou verhoudings met mense. Die Farao van Egipte het plaag na plaag deurgegaan, maar steeds harder van hart geword, selfs nadat die oudstes gesterf het. Openbaring 22 vs 11 sȇ dat die wat vuil is vuiler sal word. Die mensdom het egoisties geword. Dit gaan oor ek en ek en my alleen. My behoeftes lei na selfvernietiging. Met Christus kom lewe. Lukas 21vs 28 stel dit duidelik: “En as hierdie dinge begin gebeur, staan dan regop en lig jul kop op, want dan is julle verlossing naby”. Bly getuig al kos dit wat, die ware stryd is tussen geloof en ongeloof, so hoor ons in hoofstuk 10. Ouers rus julle kinders toe vir die toekoms as gelowiges. Amen.