015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Die kern van jou lewe is die ware Brood

Die kern van jou lewe is die ware Brood

Sunday, 24 January 2021 - 9:30pm
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Joh 6: 1 – 15; 26 – 36. Teks: Joh 6: 35 ; HK So 50 vr 125
Skriflesing

Joh 6: 1 – 15; 26 – 36.

Teks: Joh 6: 35 ; HK So 50 vr 125

Vandag hoor ons van ‘n bekende wonder, kos vir die 5000 mense met 5 brode en 2 vissies. Dit word in al 4 Evangelies beskryf. Die verskil is dat Johannes skryf oor wat Jesus sê oor die wonderwerk. Ons sien ook verskillende reaksies by die dissipels. Johannes noem die wonderwerke tekens: dws dit wys na iets anders, dit het dieper betekenis. Jesus verduidelik die teken van die brode en vissies.
Waarom juis die wonder? Vers 35 sê: Jesus het die mense liggaamlik gevoed, maar dis ’n teken/simbool dat Jesus die brood van die lewe is. Wat bedoel die Here? Ek is die brood van die lewe. In die Ou Nabye Ooste het brood veel meer beteken as vir ons. Vleis was ’n luukse. Brood was die kos en daarom was dit geïdentifiseer met lewe self. Jesus leer ons bid vir ons daaglikse brood. Brood omsluit alles wat ons nodig het om te lewe. Vir Israel was daar 2 groot gebeure in hul geskiedenis rondom brood. Een was die manna in die woestyn. Hulle sou doodgegaan het van die honger as die Here nie gesorg het nie. Die tweede was met die tabernakel en die tempel. Daar was ‘n tafel met 12 brode, een vir elke stam. Die priesters kon van die brode eet, maar dink net aan die pragtige simboliek daarvan!
Eet in die Bybel = gemeenskap en vriendskap. Destyds was die manier om saam brood te breek ’n formele manier om te sê: “Ek wil dat jy my vriend moet wees.” As konings ’n verdrag gesluit het, het hulle daarna saam geëet, saam brood gebreek. Dit was om te wys dat daar vrede en samewerking is. Met nagmaal sê ons dat die brood wat ons breek, die gemeenskap is met (die liggaam van) Christus. In Eksodus 24 lees ons van ‘n baie be-sondere gebeurtenis. Die volk moet by Sinaii bymekaarkom. Hulle word beveel om nie naby die berg te kom nie, want God is heilig en hulle is nie. As jy naby die berg kom, sal jy sterf. In Eksodus 24 is daar offers wat gebeur, en die volk word gereinig. Daarna gaan Moses met 70 leiers van Israel teen die berg op. Moses, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel klim die berg uit. En hulle sien die Here. In die teenwoordigheid van die Here eet en drink hulle en bly lewe. Daar op die berg is daar eenheid en vrede. God eet saam met hulle. Johannes sê dat ons slegs deur Jesus Christus die ewige lewe kan hê, en Jesus is die brood van die lewe. Wat is die ewige lewe? Drie sake oor die ewige lewe. Eerstens, die ewige lewe is ’n kwaliteitlewe. Dit is nie ‘n verlenging van ons aardse lewe nie, dit is nuut in elke opsig. Daar is 2 Griekse woorde wat ons met lewe vertaal in Afrikaans. “Bios” wat fisiese lewe is of bestaan beteken. Die ander Griekse woord is “zoe”, wat nie na fisiese bestaan verwys nie, maar na ’n kwaliteitsbestaan. ’n Sinvolle bestaan. Jesus sê dat Hy die brood van die ewige “zoe” is. Hy gee ‘n ewige bestaan wat hemelse kwaliteit en doelgerigtheid in ons deurmekaar tyd beteken . Die ewige lewe begin daarom nie eers eendag nie! Te veel dink dat die ewige lewe iets is wat ons sal kry, nadat ons gesterf het. Vers 35 sê: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.

Dit gaan daarom nie hier oor fisiese brood nie, nie oor die instandhouding van ons bios nie. Jesus praat van ‘n dieper honger. ’n Honger wat van blote bestaan na kwaliteit toe wil gaan. Die manna-verhaal is sprekend hiervan. Die Here gee die manna, maar hulle moes net genoeg optel vir een dag. As jy meer opgetel het, het dit die volgende dag gevrot. Hoekom? En dit leer die Here vir die Dissipels op die oewer van die meer.
Vertrou elke dag op God alleen. Manna self kan nie voed of red nie, die Here voed en red. Manna is slegs die middel of teken van God se voeding en redding. Die brood is die middel om lewe te gee. Die hoofsaak van alles is, dat wanneer die dinge van hierdie wêreld die voeding en redding van my lewe word, al is dit goeie dinge, wanneer dit my hoop, liefde en sekuriteit word, is dit vrot. Jy verwag dan van dinge of mense om God te wees. Die ewige lewe is nie net ’n kwaliteit lewe wat nou al begin nie, dis ’n persoon. Jesus is die brood. Hoe werk hierdie brood? Wanneer ons Jesus aanbid as ons Verlosser, dan word Hy ons voedingsbron vir ’n vol lewe. Ons definisie van lewe verander, want deur geloof in Christus is ons versoen met God. Ons kan saam met Hom brood breek. En dis verbysterend as ons dit reg verstaan! Alle ander godsdienste op aarde sê: Ons het die brood van die lewe, maar daar is terme en voorwaardes wat geld. Doen dit en jy sal werklike lewe kry. Islam het 5 pilare. Budha gee ‘n Agtvoudige Pad na Verligting. Rome en die Jode – Goeie werke en die nakoming van die Wet. Doen dit en jy sal die lewe kry. Hoor die verskil. Wat is die reëls? As Jesus sê: “Ek is die brood. As jy My het, het jy verlossing. Jy kan dit nie verdien nie,” dan beteken dit genade. In vers 28 vra mense vir Jesus: Wat moet ons doen om goed te doen? Jesus antwoord kort en kragtig: Glo God. Jesus is God. Hy is ewig. Jesus is die enigste mens wat God opreg lief gehad het. Hy is die enigste mens wat Sy naaste liefgehad het soos Hom-self. Hy het dit gedoen, en wanneer ons in Hom is, kry ons dit. Jesus wys nie die pad nie, Hy is die pad. Verlossing deur genade!
Hoe moet ons verstaan dat Jesus die Brood van die Lewe is? Jesus se woorde: “EK IS die brood van die lewe.” In Grieks staan daar “Ego eimi”. Ek is. Dit is die eerste van 7 keer in Johannes wat Jesus ’n EK IS-uitspraak maak. Ek is die brood van die lewe, die Goeie Herder, die Lig van die wêreld... Deur dit te doen, openbaar Jesus Homself as God. Dit kom pragtig na vore in Johannes 8. Jesus en die leiers het ’n argument. Die volksleiers sê: “Ons is die kinders van Abraham, ons het jou nie nodig nie.” Dan maak Jesus hierdie geweldige uitspraak (Joh 8:58): “...voordat Abraham was, is Ek.” Letterlik: voordat Abraham was, “ego eimi”. Die Fariseërs het dadelik verstaan wat Jesus sê, want hulle wou hom toe met klippe doodgooi. Sien, EK IS, is die naam wat die Verbondsgod vir Moses gee met die brandende bos - Jahwe. Die beteken God is sonder begin en einde. Hy is die bron van alles wat bestaan. Jesus sê dis Hy. Voor Abraham is Hy. Daarom is Jesus die brood van die lewe en Hy is die bron van lewe. Die 2de deel van die antwoord is: die meeste van dit wat ons eet, sterf voordat ons dit eet. Om brood te maak breek ons die korrels en maal dit om meel te maak. As Christus dan sê: “Ek is God wat brood is”, dan beteken dit dat God Homself breekbaar gemaak het. Hy is aan die kruis gebreek en sterf aan die kruis. Hy is ons Brood van die Lewe. Hy maak reg wat ons gebreek het. Hy versoen ons met die Vader en bevestig dit met Sy opstanding. In Lukas 22 stel Jesus die nagmaal in voordat Hy gekruisig word. Tydens die Pasga breek Hy die brood en sê: “Dit is my liggaam wat gebreek word, vir julle.” God word breekbaar, vir ons. Jesus is ons brood in al ons lewensfasette. Hoe moet ons doen tydens die pandemie om die brood te bly eet? Jesus is nie net iemand in wie ons moet glo nie, Hy is die bron van ons lewenskrag, ons geestelike krag en ons ewige hoop. Soos Israel die manna elke dag moes optel en eet, moet ons Hom elke dag eet om werklik te lewe. Ons moet elke dag die brood van die Woord eet. En dan bevestig God die Heilige Gees deur die Woord dat jy reeds in sy oorwinningswins deel. As Christen deel jy in die geloofskatte wat daar in die hemel is.

En sal ons aan die heerlike feesmaal van die Bruidegom aansit in die teenwoordigheid van Jahwe.
Hoe kan ons die inperking en die gevolge daarvan oorleef? Vra: Wie of wat is die inhoud van jou lewe? Christus is die inhoud van my lewe. En dan kan ek werklik lewe, want ek plaas dit wat ek verloor in perspektief. Ons word gevoed met Jesus deur gemeenskap van die heiliges wat saam bid en vir mekaar bid, deur getroue persoonlike Bybelstudie, sinvolle stiltetyd aan die hand van ‘n boek waarin ek kan groei in my verhouding met die Here, gebedstyd wat gesprekstyd met my Skepper is. Elke dag. Dis dikwels in swaar tye wat ons werklik leer om op Jesus te vertrou. Dikwels kom ons eers agter dat Jesus al is wat ons kort, as Jesus al is wat ons het.
“Ek is die brood van die lewe” sê Jesus. Is daar iets anders in jou lewe wat jou laat dink dat dit die Brood van jou lewe is? Amen.