015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Sonder Christus is ons kragteloos om vrug te dra

Sonder Christus is ons kragteloos om vrug te dra

Sunday, 21 March 2021 - 9:30am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Johannes 15: 1-17
Skriflesing Johannes 15: 1-17
Liedere

Psalm 145: 1, 2

Skrifberyming 15-7: 2, 4

Psalm 38: 1, 17

Psalm 116: 7, 10

Jesus begin hoofstuk 14 met: Moenie onsteld wees nie. Dit nadat Hy vir hulle gesê hulle het dat Hy dieselfde nag verraai gaan word, dat Petrus Hom sal verloën en dat Hy gaan sterf. Nou stap hulle deur die wingerd teen die Olyfberg oppad na Getsemane. En Hy sê dat Hy die wingerstok is en hulle die lote wat vrugte moet dra. Dit is ‘n bekende beeld vir die dissipels. ‘n Goeie wynboer snoei sy wingerd. Daar is lote wat nie-produktief is nie. God tel die loot op en sê: Jy kan vrugbaar wees, maar dan sal Ek eers ‘n paar siek blare moet afsny. En hoewel dit ‘n pynlike proses is, kan ons onder op die grond die sondebevlekte blare sien wat afgesny is. Verwaandheid, eersug, die houding van ek is altyd beter as ander, ek weet altyd meer as ander, ek is altyd reg, swak verhoudings, gevaarlike geleenthede, wraaksug ens. Neem God hierdie proses ligtelik op? Luister na hierdie ernstige woorde: “Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af” - Joh 15:2.
Die woord wat vir sny gebruik word, het in Grieks twee betekenisse het. Die een is “om af te sny” en die ander betekenis is “om op te tel”. Voordat God ‘n loot/tak sonder vrugte afsny, tel of lig Hy dit eers op. Hy verander die tak se posisie sodat dit of meer son kan kry of meer spasie. Druiwe groei nie as hulle op die grond lê nie, maar groei goed wanneer hulle in die lug hang. Daarom sal ‘n goeie boer die loot so drapeer/hang dat dit in die lug is en die meeste son en lug kan kry. God doen dit met ons lewe. Die pandemie het ons geleer dat niks op aarde vas en seker is nie.

‘n Gesin word verplig om onverwags wortels op te trek en na ‘n ander dorp te verhuis - gebeur dit miskien omdat God hulle wil leer om weer werklik op Hom te vertrou? Die een wat altyd gesond was, hoor dat ‘n groot operasie moet plaasvind - was dit om hom/haar te herinner om op die ware Boer te vertrou? Of iemand se inkomste droog ewe skielik op - is dit God se manier om daardie een van die grond af op te tel en so nader aan Hom te trek? Of: iemand wat ander loop en beskinder word met goeie getuienis tot verantwoording geroep - wat wil God so iemand daardeur leer?
God het met ons almal ‘n plan. Hy is die boer wat die grond voorberei. Hy maak rye en plant die beste wingerdstokke. Hy inspekteer die plante en trek die onkruid uit. En die beste van alles is, God is goed. Hy is die boer wat die meeste omgee vir sy wingerd. En wat vra Hy van ons? Ons is lote aan die wingerdstok en wat is jou persoonlike verhouding met die Here? Wat sou jou antwoord vandag wees? Daarom gee Hy die beste – Sy eie Seun wat vir jou aan ‘n vervloekte kruishout hang. Die pad tussen hemel en aarde is oop. Jou pad na die Vader is oop deur die inwerking van God die Heilige Gees wat jou aan Jesus vasgemaak het, sodat die voeding na jou toe kom.
Ons moet daarom in Hom bly. Wie in My bly, dra baie vrugte. En wat meer is, onthou maar altyd ook Jesus se volgende woorde: sonder my kan julle niks doen nie. Ons groeikrag kom uit die ware wingerdstok - Jesus. As Hy nie die Een en al in ons lewe is nie, kan ons nie die vrugte dra wat die Here vra nie. Julle werk is om in My te bly. Ouers bly in die Here, dan sal die kinders ook vrugte dra.
Miskien is ons heeltemal bereid om die regte vrugte te dra, maar op ons manier en op ons tyd. Iets wat nie moontlik is wanneer ‘n mens werklik in God bly nie. Want wanneer iemand in God bly ken Hy jou. Dalk hoor jy op hierdie oomblik hoe God se snoeiskêr knip. En dit maak seer. Soos die druiwe hulle kos van die wingerdstok ontvang, net so moet ons na Jesus draai en daagliks ons geestelike kos en groei van Hom ontvang. Dis tragies dat so baie mense hulle krag sien in finansiële vryheid, dat hulle gerespekteer word in die samelewing, of in hulle kreatiewe vernuftigheid.

Noem maar op. Hoeveel dinge wat jy waardevol ag, het regtig ewigheidswaarde? Dit kan ons dalk vir ’n dag of selfs ’n seisoen voed, maar daar kom ’n tyd wanneer na meer dieper-liggende voedsel gesmag gaan word. En daarvoor het ons die Here en sy ewige voedsel nodig.
Jesus sê: Skep moed. God is puntenerig wanneer dit by sy kinders kom. Maar weet dit: Die eindresultaat sal die beste wees. Dit sal die moeite werd wees. Bowendien: Is jy nie bly dat God dink dat ons Sy aandag en moeite werd is nie? Moenie poog om uit jouself gehoorsaam voor God te lewe nie, jy gaan faal. Ken die Here in al jou weë. Moenie jou kinders net leer wat reg en verkeerd is en wat God wil en nie wil hê nie - wees die voorbeeld en leer jou kind om God te ken en Hom alleen in lewe en in sterwe te vertrou. Leer jou kind dat God vir jou die belangrikste is, en daarom vir hom of haar ook behoort te wees. Dan sal God snoei, aan jou en jou kind, en dan sal ons vrugte dra wat pas by ‘n doopbelofte en ons kinders vrugte dra wat pas by gehoorsame kinders wat graag doen wat God vra. Liefde en gehoorsaamheid aan God en aan Hom alleen.