015 296 0054
h/v Mcdonald- & Erasmusstraat, Florapark, Polokwane
Tuis | Preke | Die heerlikheid by die dood van ‘n gelowige

Die heerlikheid by die dood van ‘n gelowige

Sunday, 2 August 2020 - 9:00am
Dominee: 
Boek: 
Teks: 
Openbaring 14 vs 12 en 13

VIDEOOPNAME

LEES OPENBARING 14 vs 1 - 13

TEKS OPENBARING 14 vs 12 - 13

Oral op die televisie, oor die radio en in die koerante is dit Covid-19 pandemie, dood, korrupsie en benoudheid op aarde.  Hoe moet ons dink oor die dood? In ons eie gemeente is daar lidmate wat siek is. Ons is dankbaar waar daar beterskap is. En ons bid dat die Here ons sal bewaar.

In Op 14 sien ons ‘n paar tussen-visioene. Ons kry ‘n kyk in die eindgebeure na die oordeel. In Op 7 het ons gehoor van die 144 000 – die strydende kerk op aarde wat in die bloed van die Lam verseël is. Wat toe belofte was, word waarheid. Die Lam staan op die Sionsberg omring deur ‘n skare singende gelowiges. Hulle sing ‘n nuwe lied.

En dan verander die visioen. Johannes sien hoog in die lug ‘n vlieënde engel. Engel = boodskapper van God. Hy kan net sê wat aan hom opgedra is om oor te dra. Hy bring ‘n goeie boodskap. Hy praat met alle mense. Hy verkondig genade. Hy roep dat daar ‘n  komende oordeel is – dit is goeie nuus vir gelowiges, dit bring die voltooiing van God se raad en is die einde van die Bose en al ons vyande. Weer ‘n geleentheid tot bekering.

Direk na die 1ste engel volg die 2de engel. Hy bevestig die val van Babilon – die afvallige wêreld voorgestel as ‘n verleidelike vrou. Babilon is die vyand van die gelowiges, wat die illusie het van mag en verleiding, maar die dood in haar dra. Sy verlei mense van God en die kerk af. Sy vervlak die mens tot ‘n wese wat op sinlike genot en oordadigheid ingestel is. Die 3de engel roep die oordeel van God oor die goddeloses. Dit is almal wat hulle laat verlei het deur die dier deur die merk op hulle koppe en hande te aanvaar. God se oordeel sal onverdun wees. In die Bybel lees ons van die beker as simbool van God se woede oor die sonde. Die Here haat sonde, want Hy is heilig. Die oordeel sal hulle volg tot in ewigheid – daar sal geen rus ooit vir hulle wees nie. Hulle het hulle rug op die Lam gedraai en al die oproepe tot bekering afgemaak as ‘n bangmaak storie. In die hel sal daar geen rus wees nie. En elke mens gaan voor die Here staan en rekenskap gee van sy dade. Die oordeel is individueel.

Waarom juis drie engele? Dit is die volle goddelike waarheid. Daar sal aan God se raadsplan geen verandering wees nie. Hier is genade en oordeel oppad. Die gelowiges het volharding nodig. Dit dui op suiwering deur vuur en loutering heen – soos goud skoongemaak word. Volharding is daarom geloofsaktiwiteit en nie iets passief nie.

Wat is ons troos vandag? Die aanvalle van die Bose sal kom. Swaar tye sal daar wees. Die heerlikheid vir elke kind van die Here is dat jy by jou dood dadelik by die Here sal wees. Die engele dra ons in die hemel in – Luk 16. Maar hoor: hulle sal salig of geseënd wees – makarios. In Mat 5 praat Jesus van 7x salig. In Openbaring verkondig die Heilige Gees ook 7x salig. En die salig-verklaring is vas aan die Salig-maker. Die saligheid waarin ons deel het Hy self deur lyde en sterwe aan die kruis vir ons verwerf. Die bron van alles is die oop graf en hemelvaart. Die dood het sy angel verloor. Die dood kry vir ons ‘n nuwe betekenis. Dit beteken nie dat siekte, marteling en die slegte by ons sal verbygaan nie, maar dood maak die deur na die Hemel oop. Die sterwe word wins. Vir die ongehoorsame wat Babel se leefwyse volg, is dit ‘n ewige verlies.

Die blye boodskap is dat ons vir ewig in God se teenwoordigheid sal wees. Daarmee saam sal ons rus van ons arbeid. Dit is ‘n rus van ons sonde. Dit is ‘n rus van ons stryd teen die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur en vir die eer van God op al die lewensterreine. En die genadeloon is dat ons werke ons volg. Die inspanning op aarde om God te dien is nie tevergeefs nie. En dit is alles genade uit God se liefde.

Die rus beteken nie dat ons niks gaan doen nie. Die rus beteken om God aanmekaar sonder ophou te dien. Ons word uit genade deur Christus en die werk van God die Heilige Gees in heerlikheid opgeneem.

Neem dit die swaar weg? Glad nie. Die Here wys vir ons die toekoms. Die nood wat ons vandag ervaar, die swaar wat ons vandag in die gesig staar, die verlies aan inkomste wat nou gebeur tydens die pandemie, moet nie ons geloof in die Here laat wankel nie. Dit is ons toets. Dit is nou die tyd om volharding van die Here af te bid. Dit is ‘n gawe van die Gees wat ons dra en ons oë open vir God se geleenthede. Bid vir mekaar. Elkeen wat vandag in benoudheid is, kom na God se water van rus en vrede. Die Here sorg en versorg. Hy gee uitkoms in die nood. Die oorwinning in Jesus Christus staan vas.