Skriflesing |
Gen 41: 25 - 44, Rom 8: 18 - 30 |
Liedere |
Psalm 8: 1, 3, 4 Skrifberyming 12-4: 1, 2, 3 Psalm 119: 39, 40 Skrifberyming 14-1: 1, 2 Skrifberyming 14-2 |
Ons lees in Spreuke 16: 9 en 33 die volgende: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop. Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom”. So het Josef dit in sy lewe ondervind. Hy word as jong seun as ‘n slaaf deur sy brooers verkoop. Vir ongeveer 16 jaar in sy lewe beleef hy swaarkry. Hy word in die tronk gegooi vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Op 30 word hy die onderkoning van Egipte. Op daardie stadium die magtigste land in die bekende wêreld. Hoe moet ons dit verstaan? In Romeine 8:26 sê die apostel Paulus dat die Here ons helper is. Hy praat oor die bystand wat die Heilige Gees aan ons in die gebed gee, en sê dan: “Ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.” En ons ou sondige natuur het nog steeds soveel houvas op ons, dat ons lewe as kinders van God tot die einde ’n lewe van aanmekaar stryd met baie nederlae bly. Dit is van hierdie swakheid waarvan die apostel praat as hy sê dat die Gees ons daarin bystaan. Dit doen die Gees enersyds deur ons te herinner aan die beloftes van God dat die hele kosmos alles eenmaal totaal nuut sal word. Trouens, die Gees self wek in ons harte die verlange op na die koms van die koninkryk wanneer die tydelike met die ewige beklee sal word (Rom 8:23). Maar die Gees doen dit ook deur in die gebed vir ons te pleit met woorde wat nie uitgespreek kan word nie. En die rede waarom die Gees dit doen, is dat ons nie self weet wat ons moet bid nie. Ons weet nie wat ons moet bid nie, omdat die lewe so onuitspreeklik ingewikkeld is. Ons kan nie eers na ons eie klein lewetjie omsien en onderskei wat goed of sleg vir ons sal wees nie. Met die pandemie wat deel van ons lewe is, kan ons op die oomblik amper net van week tot week beplan. Hoe kan ons met ons beperkte verstand en insig die toekoms sien en reg bid vir die gebeurtenisse in die wêreld met sy strominge en tendense? |